1. Gaan na die RSG webwerf by www.rsg.co.za.
2. Kliek die "Potgooi" opsie op die menu.
3. Volg die instruksies op die skerm. Ten tyde van hierdie skrywe selekteer jy "Radioteater Potgooi" vanaf die "PROGRAM" veld, en kliek op "Soek".
4. Jy sal nou 'n lys van alle RSG radiodramas kry, beginnende by die mees onlangse.
5. As jy spesifiek na een van my dramas wil luister, kan jy byvoorbeeld "Albert" in die "Sleutelwoord" veld intik.
As jy sukkel, kontak my gerus vir bystand deur 'n boodskap te stuur aan albert@albertshort.com.
'n Kaal man word in die vlak waters van die rivier gevind. Hy is bewusteloos en kan nie praat nie. Die Anglo-Boereoorlog is in volle swang. Wie is hy? Of meer belangrik - wát is hy? Boer of Brit? Vriend of vyand?
Die verpleegster raak verlief, en iemand raak jaloers. En al is hy slapend, verkeer die stomme Moses in doodgevaar!
Hierdie drama is teen die einde van 2023 op RSG uitgesaai. Om gratis na die potgooi hiervan te luister, volg die instruksies elders op hierdie bladsy.
Dis 'n snikhete aand, maar nogtans dring Cecilia daarop aan dat haar man die vensters toemaak en die gordyne toetrek. Soos elke aand.
Want hulle bly reg langs 'n begraafplaas en daar dwaal dinge. En as die vensters oop is, sien die goeters dit dalk as 'n uitnodiging en kom nader.
Opgevoer deur Johan Rademan. Die spelers was Elma Potgieter en Frans Swart.
Hierdie drama is op 9 Junie 2022 op RSG uitgesaai. Om gratis na die potgooi hiervan te luister, volg die instruksies elders op hierdie bladsy.
Dis middernag en twee susters sit in hul verlate huisie en speel 'n gevaarlike speletjie - jy blaas drie keer op 'n bottel, en as daar 'n spook in die nabyheid is, sal dit aan jou verskyn.
Een van hulle blaas - een, twee, drie - en dan is daar 'n klop aan die deur! Toeval? Of is die ding by die deur dalk regtig 'n ... spook?
Die stuk is meesterlik opgevoer deur Renske Jacobs, en in die rolverdeling was Elzabé Zietsman, Rina Nienaber, Charlie Bougeunon en Eloise Cupido. Hierdie drama het die tweede prys in die RSG en Sanlam radiodrama-skryfkompetisie van 2021 gewen.
Hierdie drama is in Mei 2022 op RSG uitgesaai. Om gratis na die potgooi hiervan te luister, volg die instruksies elders op hierdie bladsy.
'n Jong paartjie is obsessief daaroor om spoke te jag. Hulle hoor van 'n spooktrein wat een keer per jaar verskyn en besluit om dit te ondersoek. Hulle maak verwarrende, onstellende ontdekkings.
Die regiseur was Leon van Nierop. Die spelers was Cindy Swanepoel, Louis van Niekerk, Sulette Thompson en Casper Lourens.
Hierdie drama is op 27 Mei 2021 op RSG uitgesaai. Om gratis na die potgooi hiervan te luister, volg die instruksies elders op hierdie bladsy.
Hierdie drama is geskryf as 'n opvolg op 'n Voorlopige Begrafnis.
Pietman word groot. Hy wil sy vlerke sprei en leer van die lewe. Hy wil vlieg. Wegvlieg. Hy wil ook weet hoe arende vlieg. En lugballonne. Maar op die werf waar hy bly, verloop niks ooit glad nie en tussendeur moet hulle sy pa ook begrawe.
Die regiseur was Christelle Webb-Joubert. Die spelers was Janine Opperman, Karen Wessels, Jacques Terblance, Eswee Bruwer en Elize Cawood.
Hierdie drama is op 4 Oktober 2018 op RSG uitgesaai. Om gratis na die potgooi hiervan te luister, volg die instruksies elders op hierdie bladsy.
'n Klein seertjie ontstaan op 'n boer se hand. Geleidelik word dit groter, maar daar is nie tyd om dokter toe te gaan nie - dis skeertyd op die plaas. En dan vat die gangreen sy offer: die boer verloor sy hand. Hoe gaan 'n mens aan?
Die storie is rofweg gebasseer op ware dinge wat met my oupa gebeur het. Al die karakters is ook vaagweg op werklike mense geskoei.
Hierdie drama het eerste plek in die RSG en Sanlam radiodrama-skryfkompetisie van 2017 behaal.
Die regiseur was Christelle Webb-Joubert. Die spelers was Janine Opperman, Karen Wessels, Jacques Terblance, Eswee Bruwer en Robbie Wessels.
Hierdie drama is op 3 Mei 2018 op RSG uitgesaai. Om gratis na die potgooi hiervan te luister, volg die instruksies elders op hierdie bladsy.