Ek is oneindig dankbaar teenoor die sangers wat alreeds party van my lirieke getoonset het.

As jy lus is om 'n liedjie te skryf, speel gerus met my lirieke. Dit sal wonderlik wees om te hoor.

Besoek hierdie bladsy asseblief weer later - ek het oor die afgelope jare heelwat lirieke geskryf en sal so gou as wat tyd toelaat meer inligting daaroor hier plaas. Ek hoop jy is later weer terug!

Intussen, hieronder is 'n paar bestaande pogings.



Amper

Amper was jy hier gewees
Dit was amper net ons twee
Amper het jy ‘n bietjie
Van jouself met my kom deel
Amper het ek weer na jou gevra
Maar amper lê ‘n honderd myle anderkant De Aar

Kan jy ook nog somtyds
Daardie laatnag songs onthou
Van Elvis en die Beatles
En die luister saam met jou
Amper het my hart jou weer gemis
Maar amper lê ‘n honderd myle anderkant De Rust

Nog ‘n bietjie donker
Maar dis eintlik nog dag
Nog ‘n bietjie een-alleen
En nog net so ‘n bietjie wag vir jou
Amper het ek jou gebel
Om weer van jou te hoor
Maar van ons twee en daardie laatnag songs
Is daar nou baie min van oor

Woorde kom van ver af
Die wysie effens sag
Klink dit soveel anders
As jy luister in die nag
Amper het jy ook van my gehou
Maar amper lê ‘n honderd myle anderkant Grabouw

Koue marmer-oë

As jy jouself weer verloor langs die pad
Volg die spoor, die spore na my hart
Want die pad na my loop gelyk
Daar’s stiltes oral waar jy kyk

En as ek droom staan jy weer voor my deur
Kan dit wees dat dit wel so kan gebeur
Dat jy opnuut weer vir my wil kom sê
Hoe jy my soos altyd steeds wil hê

Maar woorde is net woorde
Beloftes net ‘n klank
Wat maklik in die stiltes
En hier tussen ons kom hang
En somtyds moet ek wonder
En wens dat ek kon glo
Net soos tye vantevore
In jou koue marmer oë

As jy jousself weer verloor langs die pad
Met jou spore reguit deur my hart
Sou ek jou dalk net nog een keer wou bel
Om jou weer van vooraf te vertel

Voor die son sal ek mistig vergeet
Met die glans van die rooidag sal ek weet
Dat jou spoor my tog sal verlaat
Soos die laaste ego's van jou praat

Soetmelksvlei

Sou ek in ‘n droom my dalk verbeel dat ek jou sien
Dan sou ek ewig sluimer, en sonder huiwer, buitendien
Later met die eerste kans daar by jou kom bly
Net ons en daardie vlaktes en ons mooiste Soetmelksvlei

Soveel wat my nader roep, en jy wat staan en wag
En ek wat heel gewillig my daar verloor en ongeag
Van hoe dit ooit kon anders, sou die wêreld ons beny
Die vrede in jou arms in die nag op Soetmelkslvlei

Ek luister na die radio
En somtyds praat ek terug
Andermaal verdwaal ek
Met die wêreld op my rug
Die liedjie vat my lang pad saam
Na die aande daar by jou
En sal ek teen die einde
‘n Bietjie kan onthou

Later is dit storietyd, ons luister en ons hoop
Dat alles hier ten late ook net so netjies sal verloop
En net soos in die movies sal ek jou kom kry
Ons wegry in die verte na ons mooiste Soetmelksvlei

Somtyds wil my hart gaan draai en wonder wat is oor
Van al ons mooiste drome, want herfs se tyd was als verloor
Maar soms moet jy in wysheid liefs geroeste deure sluit
Die hekke van die paaie wat jou lei na Soetmelkvlei

Koue marmer-oë

Woorde: Albert Short | Musiek: Steffie le Roux

Dalk nooit

Woorde: Albert Short | Musiek: Frikkie van Biljon

Altyd by my

Woorde: Albert Short | Musiek: Frikkie van Biljon




Albert Short

albert@albertshort.com